Melissa in the Vaderhart Coffee Cafe on our first day of sales.

Toe was daar Vaderhart Koffie!

‘n Klompie jare gelede in 2013, terwyl ek op universitieit was en nog voordat ek en Melissa getroud was, het ons tydens so ‘n lukraak “droom saam” sessie gesels oor hoe lekker dit vir ons sal wees om eendag ‘n koffiewinkel van ons eie te hê. Op daardie stadium het ons nie veel verdere agting op die verwesenliking van so ‘n droom gegee nie – dit was ‘n oulike idee maar te ver buite ons bereik.

Ons albei het egter toe verskillende loopbane behartig onderskeidelik as onderwyser en partykie-beplanner. Melissa het later met die geboorte van ons eersteling – Mieke – die uitputtende, vervullende en mees belangrikste posisie van huismamma volgestaan. Intussentyd het ons altwee die saad wat die Heilige Gees destyds in ons harte geplant het voel ontkiem, maar hierdie keer met ‘n duidelike missie en visie! Die missie – om Abba Vader se liefde, Sy Vaderhart vir ons almal met mense te deel, sommer alledaagse mense, mense wat Hom alreeds ken en die wat Hom nog moet ontmoet, so sommer terwyl hulle koffie drink.

Lang storie kort. Na ongeveer 2 jaar se worsteling met die roering in ons geeste om verandering te maak en om gehoorsaam te wees het ons in Oktober van 2020 begin werk aan die Vaderhart Koffie konsep, ook ‘n hele stroie op sy eie – vir later. Toe in 2021 was daar Vaderhart Koffie…

Die reis na waar ek nou (Januarie 2022) hier in die mobiele Vaderhart Koffie Café sit was absoluut nie so eenvoudig soos die voorgenoemde stelling en opskrif van hierdie artikel dit laat klink nie. Dit was en is steeds moeilik, baie moeilik. Daar was monumentale keuses – die laat gaan van gerieflikheid, ‘n bekende standvastigheid en ‘n lewe wat ons tot op daardie punt toe saam gebou het. Ongeag, ons het geweet ons moes eenvoudig net beweeg en gehoorsaam wees. Dit is veral wonderlik hoe God in mense se harte werk, want ons sou nie kon koffie verkoop vanuit die Vaderhart Koffie waentjie as dit nie was vir mense wat hul harte oopgemaak het vir ons nie. Die waentjie se kaste, die koffie masjien, koffie aankope en soveel meer sou nie moontlik wees as dit nie vir ander se barmhartigheid was nie. Ons harte loop oor van dankbaarheid.

Spreuke 16:9 sê so duidelik: “Die hart van die mens dink sy eie weg uit, maar die Here rig sy voetstappe.” Hierdie is soveel meer as net ‘n stelling – dis ‘n belofte van God. Dit is soms moeilik of dit te sien of te ervaar, maar soos Steve Jobs in sy aanvangs toespraak by Stanford Universiteit in 2005 gesê het: “We can only connect the dots looking back.” Wat meer is geloof nie as ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” – Hebreërs 11:1.

Wanneer ek en Melissa terug dink kan ons getuig van hoe God ons harte en die pad voorberei het, terwyl ons meeste van die kere salig onbewus was. God is goed en Sy grootheid is ondeurgrondelik!

Ons gee all die eer aan Abba Vader vir hierdie geleentheid en ons sê dankie vir Sy leiding en liefde. Alhoewel die visie en missie nog nie in totalitieit in vervulling is nie, is ons dankbaar dat ons kon begin het en berus ons dat God se Wil sal geskied.

Warm Groete

Justin en Melissa